
Argieffoto
Tot 50 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) kan moontlik huis toe gestuur word nadat hulle glo die aanklokreël verbreek het.
Die SANW het Donderdag ʼn verklaring uitgereik en bevestig dat hy in ʼn proses is om van sy lede, wat in die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) ontplooi is, te onttrek.
Die soldate was deel van die ingrypingsbrigade onder die vaandel van die Verenigde Nasies se stabiliseringsending in die Kongo.
“Die lede se optrede het die veiligheid van ander SANW-lede in gedrang gebring deurdat hulle die militêre gedragskode en die VN se gedragskode vir vredebewaarders oortree of verbreek het,” lui die verklaring.
Die oortredings is nie gespesifiseer nie, maar eNCA het vroeër vandeesweek berig twee pelotonne word huis toe gestuur nadat 23 soldate die vorige week ʼn sjebien besoek het waar sekswerkers gereeld kuier. Volgens die uitsaaier het nog 27 soldate verlede Saterdag ook die sjebien besoek, sonder dat hulle toestemming gehad het om die basis te verlaat en hulle het die aandklokreël verbreek.
“Die lede sal voor die militêre regstelsel moet verskyn sodra alle nodige administratiewe prosesse afgehandel is,” aldus die verklaring. “Die SANW veroordeel ten sterkste enige wangedrag deur sy lede en sal die nodige stappe doen om seker te maak dat korrektiewe maatreëls ingestel word.”