
Argieffoto (Foto: pravda.ru)
Dmitri Pesko, woordvoerder van die Russiese president, beskuldig die VSA van onnodige ekstra spanning in Europa, aangesien dié land glo nuwe taktiese atoomwapens in Duitsland wil bewaar.
Rusland voel dat dit die reeds gespanne politieke balans in Europa sal versteur, indien Amerika met sy planne voortgaan om die wapens in die Rheinland-Pfalz-gebied by Fliegerhorst Büchel te bewaar.
Rusland het gewaarsku dat dit Rusland sal noodsaak om gebiede soos Kaliningrad (ʼn stuk Russiese gebied teen die Baltiese See) te versterk. Meer Russiese militêre bewegings sal dan ook in die Swartsee en die Baltiese See plaasvind.
Fliegerhorst Büchel is al baie jare lank die plek waar Amerika atoomwapens bewaar. Guido Westerwelle, voormalige Duitse minister van buitelandse sake, het in 2012 hard aan ʼn plan gewerk om die VSA te dwing om die wapens te verwyder. Blykbaar het die Duitse kanselier, Angela Merkel, hom van sy voorneme laat afsien.
Die Duitse ZDF het Dinsdag berig dat Amerika wil die nuwe atoombomme TYP B 61-12 in Fliegerhorst Büchel stoor. Katharina Binz van die Grünen- politieke party het gesê dit is ʼn “baie verkeerde en gevaarlike boodskap” is. Geen bevestiging is tot hede vanaf die VSA bekom nie. Die inligting spruit egter uit die land se begrotingsplanne, berig ZDF. Volgens die berig sal dit ongeveer 20 verskillende nuwe atoomwapens wees met genoeg trefkrag van ongeveer 80 Hiroshima-bomme.
Shelley Laver, adjunkdirekteur van openbare sake vir die Amerikaanse kernkragveiligheidsadministrasie het egter aan die Russiese nuuswebwerf Pravda gesê Amerika het tans geen planne om nuwe atoomwapens in Duitsland te ontplooi nie. Sy het verduidelik volgens Washington se planne sal die grootskaalse produksie van B61-12 nie voor die 2020 fiskale jaar begin nie. “Die berigte in Duitse media dat wapens teen die einde van hierdie jaar in Europa ontplooi sal word, is nie akkuraat nie,” het sy bygevoeg.