Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Jhb-kleuter al maande in koma weens breinvliesontsteking

$
0
0
Mea Meyer. Foto: Verskaf

Mea Meyer. Foto: Verskaf

ʼn Kleuter van Boksburg aan die Oos-Rand is al meer as drie maande lank in ʼn koma in ʼn Johannesburgse hospitaal nadat sy met ʼn seldsame soort breinvliesontsteking gediagnoseer is.

Mea Meyer (5) is op asemhalingondersteuning in die waakeenheid van die Netcare Clinton-hospitaal en toon slegs geringe reaksie wanneer daar aan haar gevat en met haar gepraat word.

Anelda Badenhorst, Mea se tannie, het aan Maroela Media gesê die nagmerrie het reeds einde Mei begin toe Mea se ma, Zandre, haar na die huisdokter geneem omdat Mea nie lekker gevoel het nie. Mea, toe net vier jaar oud, was koorsig en het gebraak en die dokter het Duitse masels gediagnoseer. “In die week daarna het haar toestand ’n klein bietjie verbeter, maar sy was maar heeltyd siekerig en wou nie volkome herstel nie,” het Badenhorst gesê.

Op 9 Junie is Zandre weer met Mea na die huisdokter wat hulle na ʼn pediater verwys het. Mea is in die Sunward Park-hospitaal opgeneem waar ʼn seldsame bakteriële breinvliesontsteking gediagnoseer is. Terwyl die mediese span steeds besig was met die toetse het Mea ʼn beroerte gekry en in ʼn diep koma verval.

“Sy is oorgeplaas na die Clinton-hospitaal want hulle kinderwaakeenheid is van wêreldgehalte,” het Badenhorst gesê. Oor die volgende paar weke het Mea verskeie terugslae gehad en moes sy ʼn paar keer bygebring word nadat haar hart gaan staan het. Volgens Badenhorst moes daar ʼn stent in haar brein aangebring word en het dokters ook ʼn pasaangeër aan haar hart gekoppel.

“Daar kom tye wanneer sy vir ʼn kort rukkie self asemhaal, maar dan val sy weer terug en moet weer sy ten volle deur die ventilator ondersteun word,” het sy gesê. “Sy beweeg nie juis van haar nek af ondertoe nie, maar sy kan haar ogies oopmaak. Sy is in ʼn baie ligte koma in dié stadium, omdat sy van tyd tot tyd wakker is.”

Sy verduidelik dat Mea eers grootliks op haar eie moet kan asemhaal en op ʼn kleiner ventilator moet wees voordat dokters kan oorweeg om haar na ʼn rehabilitasie-hospitaal oor te plaas. “Die dokters het vir ons gesê sy het breinskade en sy sal van voor af moet leer loop, eet en praat. Maar ons geloof dra ons. Ons glo sy sal ten volle herstel. Dis dalk nie die realiteit nie, maar dit is ons geloof. Sy is ʼn vegtertjie. Sy het al vyf jaar oud geword in die hospitaal en sy gee nie moed op nie. Sy veg,” het Badenhorst gesê.

Intussen sit Zandre dag en nag langs Mea bed. “Sy is elke dag daar. Sy sien nie die son nie. Sy is van vroegoggend daar tot omtrent 23:00 elke aand,” het Badenhorst gesê. Francois, Mea se pa, kom ook elke dag na werk hospitaal toe om Mea te besoek. “Ons weet Mea se kanse hang van haar familie se ondersteuning af. Sy het stimulasie nodig en haar ma wat langs haar sit en met haar praat en vir haar musiek speel, help om haar brein te stimuleer. Verder help die res van ons met Mea se sussie (13) en die takies in en om die huis. Mea en Zandre het ʼn reuse-ondersteuningsnetwerk en mense van regoor die wêreld stuur boodskappe van bemoediging. Ons glo en ons hou nooit op bid nie.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images