Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Oos-Londen is Maandag na die kus by Gonubie, noord van Oos-Londen, ontbied nadat ʼn onbekende voorwerp gesien is waar dit in die water dryf.
Geoff McGregor, NSRI se Oos-Londen-stasiebevelvoerder, het gesê die instituut se plaaslike bemanning is deur die Transnet Nasionale hawe-owerheid ontbied. “Ooggetuies het beweer hulle het ʼn voorwerp in die water gesien wat moontlik ’n omgeslane boot kan wees,” het McGregor gesê.
“Die NSRI het ʼn seereddingsboot gestuur en gevind die voorwerp was ’n ontbindende walvis-karkas wat ongeveer drie seemyl van die kus af gedryf het. Die Oos-Londense hawe-owerheid en plaaslike mariene owerhede is in kennis gestel. Hulle sal besluit of verdere stappe gedoen moet word,” het hy gesê.