
Argieffoto: Reint Dykema
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê Magrieta Petronella Res en haar man, Bruno, het Vrydag ʼn vriendin op hul plaas, Matlopi, ontvang, en dat hulle kort hierna deur twee verdagtes oorval is. “Volgens voorlopige inligting het die verdagtes op die kluissleutels aangedring voordat hulle die egpaar en hul vriendin in ʼn instapkluis toegesluit het.”
Volgens Otto is Magrieta in die proses in die kop geskiet en haar man in die arm. Die verdagtes het glo hierna van die toneel gevlug. Die egpaar en hul vriendin was tot Saterdag omstreeks 12:00 in die kluis toegesluit voordat besoekers op die plaas opgedaag en hul hulpkrete gehoor het. Die polisie is na die toneel ontbied.
Otto het gesê polisiebeamptes het die kluis se deur oopgebreek. Magrieta het intussen reeds aan haar beserings beswyk. Volgens Otto is Bruno na ʼn hospitaal in Thabazimbi geneem vir behandeling. Die egpaar se vriendin is nie beseer nie. Otto het gesê vyf vuurwapens is tydens die aanval gesteel. Otto het ook bevestig dat ʼn verdagte in hegtenis geneem is en ondervra word. Volgens Otto is daar nie selfoonopvangs op die plaas nie.
Die Spoorsnyers, ʼn private veiligheidsmaatskappy, het intussen gesê Bruno is geskiet terwyl hy in ʼn stoel gesit en televisie kyk het. Volgens die Spoorsnyers is daar vier verdagtes waarvan een op ʼn buurplaas in hegtenis geneem is.