ʼn Spermbank in Sjanghai, China wil spermskenkers lok met Apple se nuwe iPhone as aas.
“Dis nie nodig om ʼn nier te verkoop nie. Sjanghai-spermbank kan jou iPhone6s-droom bewaarheid,” lees die advertensie wat wyd op China se gewildste sosiale media-platform, WeChat, versprei word. Die iPhone6 word volgende week bekend gestel.
Volgens die spermbank kan diegene wat kwalifiseer tot 6 000 yuan (of R12 470) kry vir 17ml se sperm. Die nuutste Apple-foon sal na verwagting sowat 5 288 yuan kos. Die verkoop van niere het ʼn welbekende metafoor geraak vir die opwinding en obsessie rondom Apple-produkte nadat ʼn tienerseun in 2011 een van sy niere verkoop het om Apple-produkte te koop.
ʼn Woordvoerder van die Sjanghai-spermbank het aan Xinhau gesê die veldtog het tot dusver vrugte afgewerp aangesien dit bewusmaking geskep het en potensiële donateurs gelok het. Spermbanke in China het ʼn groot tekort aan sperm, aangesien talle jong mans onbewus of te skaam is om te skenk terwyl daar tienduisende onvrugbare paartjies in die land is.
China se spermbanke het egter streng kriteria vir skenkers, onder meer dat hulle tussen 22 en 45 jaar oud moet wees, ʼn graad moet hê en oor hoë-kwaliteit sperm moet beskik.