Lyall Pringle, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die twee vissermanne het Donderdagaand op die see uitgevaar, maar teen Vrydagoggend nog nie teruggekeer nie. “Hulle families het die polisie genader en alarm is gemaak om na hulle te soek,” het sy gesê.
“Die twee plaaslike vissermanne, onderskeidelik 27 en 39 jaar oud, het omstreeks 18:00 vanaf Houtbaai vertrek om vis te vang van hul boot af, maar nie vanoggend [Vrydagoggend] teruggekeer soos beplan nie.”
Twee NSRI-reddingsbote is gestuur om na die vissermanne te soek en die Wes-Kaapse nooddienste se helikopter het ook aan die soektog deelgeneem. Intussen het vriende en familie van die vissermanne op die kuslyn gesoek in gebiede waar die twee vriende gereeld saam vis gevang het.
Die polisie se duikeenheid en NSRI-reddingswemmers het een van die vermiste mans se liggaam gevind nadat dit uitgespoel het. “Die liggaam is onder Karbonkelberg oorkant Duiker-eiland gevind,” het Pringle gesê.
Die boot is kort daarna ook gevind waar dit ook uitgespoel het. Pringle het gesê die soektog na die tweede visserman duur voort.
Die mans se name is nie in hierdie stadium bekend nie.