Alle dienste by Vuwani is Vrydagoggend opgeskort weens betogings in die gebied. Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê winkels en skole in die omgewing het toegemaak, alle openbare vervoerdienste is gestaak en reisigers is aangeraai om die omgewing te vermy.
“Die pad van Elim via Vuwani na Malamulele is gesluit nadat betogers brandende bande daar gepak het,” het Otto gesê. “ʼn Polisie-njala is ook aan die brand gesteek.”
Buite Burgersfort het geweld ook opgevlam waar inwoners buite die munisipale gebou betoog het. “Die betogers het probeer om ʼn muur op die R37 te bou om die verkeer te versper, maar hulle is deur die openbareorde-polisie uitmekaar gejaag,” het Otto gesê. “Die R37 is tans oop, maar die betogers is steeds in die gebied. Die situasie is baie gespanne.”
Intussen is ʼn vragmotor op die R555 aan die brand gesteek.
Volgens Otto is die inwoners ontevrede oor die voorstel dat hulle deel vorm van ʼn nuwe munisipaliteit. Talle paaie in Limpopo moes die afgelope week gesluit word weens betogers wat die paaie versper. Verskeie voertuie is met klippe bestook en geboue is afgebrand.

