
Die uitgebrande bus. Foto: ANA
Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê talle sake van poging tot moord word ook ondersoek. “Volgens berigte het die bus in Onverwachtstraat gery toe dit met petrolbomme bestook is. Twee mense is dood en minstens 11 mense beseer.”
Rwexana het gesê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het in ‘n verklaring gesê twee mans is in die aanval dood en minstens 32 passasiers is beseer.
JP Smith, burgermeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê twee brandweerwaens en ‘n reddingsvoertuig is ontbied om die brand te blus wat deur die petrolbomme veroorsaak is. Volgens hom het die stad se nooddienste vier mense behandel vir ernstige brandwonde voordat hulle na ‘n hospitaal vervoer is.
Smith het gesê talle ander passasiers wat bo in die bus gesit het, ontvang behandeling vir brandwonde in verskeie hospitale. “Dit is malligheid. Dit is net te aaklig. Dit was ‘n langafstandbus en êrens is ‘n ma of dogter of suster wat wag vir die twee mans wat doodgebrand het.”
InterCape het ‘n kort verklaring uitgereik ná die aanval en bevestig dat een van sy busse met petrolbomme aangeval is in die Strand. “Die voorval word ondersoek en die motief vir die afskuwelike aanval is nog nie duidelik nie. Ons gedagtes en gebede is met diegene wat deur die skokkende voorval geraak word.”