ʼn Vrou en paramedici van Pietermaritzburg het Donderdag saamgespan om te bewys hoe gevaarlik dit vir kinders en diere kan wees wat buite geboue in motors gelos word.
Chelsea Pieterse, ʼn joernalis van The Witness en ER24 het ʼn eksperiment gedoen waar Pieterse vir twee ure in ʼn motor sit terwyl die temperatuur in die motor gemeet word. Paramedici het haar deurentyd gemonitor om te verseker dat sy nie in gevaar is nie.
“Ons het op hierdie eksperiment besluit na aanleiding van onlangse gevalle waar babas en kleuters in motors gelos is deur ouers wat gedink het dit is skadeloos,” het Pieterse gesê. “Die ouers het telkemale gesê hulle was net ‘vinnig’ by die winkel in of ‘dit is winter’ en daarom kan dit nie so warm wees nie. Selfs in die winter is dit uiters gevaarlik om ʼn kind of dier in ʼn motor te los. Navorsing het bewys die temperatuur in ʼn motor wat buite in die son staan, kan tot so hoog as 73 grade Celsius styg.”
Metingstoerusting is in die motor aangebring en Pieterse se uitdaging het begin in 18 grade Celsius. Sy kon egter nie twee ure in die motor uithou nie en moes ná ʼn uur en 15 minute die eksperiment staak.
“Dit was net te warm,” het sy gesê. “Binne ʼn paar minute het sweetdruppels op my voorkop gevorm en 30 minute later was ek papnat gesweet, my gesig was bloedrooi en my hart het vinniger geklop. Selfs die lug wat ek ingeasem het was so warm, dit het gevoel of my longe brand.”
Paramedici het Pieterse geëvalueer nadat sy uit die motor uit geklim het en bevestig dat haar harttempo versnel het, haar bloeddruk laag was en sy reeds tekens van ontwatering getoon het.
“Ek is bly ons kon bewusmaking [oor die kwessie] skep met hierdie eksperiment, maar ek sal dit nie weer doen nie. Dit was verskriklik,” het Pieterse gesê.


