
Radovan Krejcir tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa
Die vonnisoplegging van Radovan Krejcir, die Tsjeggiese voortvlugtige en sakeman, en sy vyf medebeskuldigdes wat Vrydag in die Johannesburg-hooggeregshof sou begin, is uitgestel.
Volgens die polisie is die vonnisoplegging tot 12 Oktober uitgestel weens “swak gesondheid” van ʼn regsverteenwoordiger.
Krejcir is verlede maand skuldig bevind aan poging tot moord, ontvoering en dwelmhandel.
Krejcir se medebeskuldigdes Desai Luphondo, Siboniso Miya, voormalige ao. George Nthoroane, Samuel Maropeng en Jan Lefu Mofokeng is almal skuldig bevind aan ontvoering. Almal, buiten Nthoroane, is ook skuldig bevind op aanklag van poging tot moord. Nthoroane is skuldig bevind aan aanranding.
Hulle is aangekla van die ontvoering en marteling van Bheki Lukhele.
Lukele is die broer van die man wat Krejcir na bewering uit R70 000 en ʼn multimiljoen rand se vrag onwettige metamfetamien bedrieg het. Die staat het voorgehou dat Lukele se aanranding ʼn poging was om sy broer, Doctor Nkosi, ʼn toesighouer by Swissport Cargo Services by die OR Tambo- internasionale lughawe, te vind.
Krejcir staan ook nog tereg op twee aanklagte van moord sowel as een van sameswering om moord te pleeg. Dié aanklagte hou verband met ander sake.