
Die toneel in Ashville, KwaZulu-Natal (Foto: Arrive Alive)
Paramedici is Dinsdag ontbied nadat ʼn bus deur ʼn huis se muur in Ashville in die Ilembe-distrik in KwaZulu-Natal gebars het.
“Verskeie persone is beseer,” het Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, in ʼn verklaring gesê.
Volgens paramedici op die toneel het die bus agteruit eers deur ʼn heining en daarna die huis se muur gebars. Paramedici van die provinsiale nooddienste en ʼn plaaslike privaat ambulans was op die toneel en het vyf persone behandel. “Drie van die beseerdes was passasiers op die bus. Twee daarvan was skoolkinders, ongeveer 15 jaar oud, en een passasier was ʼn vrou van 40 wat geringe beserings opgedoen het. ʼn Man, ongeveer 25 jaar oud, is ernstig beseer toe die bus hom getref het terwyl hy in die straat geloop het. Nog ʼn voetganger het geringe beserings opgedoen. Niemand in die huis is beseer nie.”
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Die polisie stel ondersoek in.