
Baba Lucas en die res van die Atkinson-gesin (Foto: Legoland, Facebook)
Lucas Atkinson, wat onlangs in die parkeerterrein van Legoland in Windsor in Engeland gebore is, het ʼn groot geskenk van dié speelpark ontvang.
Lucas het ʼn lewenslange toegangskaart ontvang om Legoland te besoek, het die speelpark op sy Facebook-blad bevestig.
Sy ma, Janine Atkinson, was op pad na die Wexhampark-hospitaal toe hulle gedwing is om ʼn ompad te ry en uiteindelik in die personeel se parkeerterrein by Legoland stilgehou het. Janine het kort daarna gekraam.
“Ons wens die Atkinson-gesin van harte geluk,” het ʼn woordvoerder van die speelpark gesê.
By “plek van geboorte” op Lucas se geboortesertifikaat dui dit aan, “Legoland Windsor, Winkfield Road, Windsor on the way to Wexham Park Hospital Slough”. Hy is op 30 Augustus gebore.