
Solly Msimanga (links) is as die DA se burgemeesterskandidaat in Pretoria aangewys.
Solly Msimanga het ná sy verkiesing tot burgemeesterskandidaat gesê korrupsie en wanadministrasie het dienslewering in die stad op die kantlyn geplaas. “Die munisipale regering in Tshwane werk net vir hulself en nie vir die mense nie. Dit word beheer deur ʼn klein groep wat slegs daarop fokus om hulself, hul familie en hul vriende te verryk.”
Msimanga het gesê die slimmeterkontrak-debakel is net een van die voorbeelde waar gierigheid, selfbelange en arrogansie inwoners se belange getroef het. “Tshwane-burgemeester, Kgosientso Ramokgopa en Jason Ngobeni, munisipale bestuurder, het doodeenvoudig die advies en instruksies van die nasionale tesourie om nie voort te gaan met die kontrak nie, geïgnoreer. Die uiteinde was dat honderde miljoene rande gemors is nadat die mislukte kontrak gekanselleer moes word. Dit was geld wat spandeer kon word op die lewering van dienste aan gemeenskappe.”
Msimanga het gesê dit is duidelik dat Pretoria onder de ANC se beheer nie vorentoe gaan beweeg nie. Elke jaar word miljoene rande onderspandeer of wanbestee deur die munisipaliteit en enige poging deur die DA om dit aan die groot klok te hang en te debatteer, word vinnig in die kiem gesmoor deur die ANC-speaker in die raad.”
Hy het gesê swak dienslewering, armoede, misdaad en dwelms moet nie die norm wees vir die mense van Pretoria nie. Hy het gesê die DA sal hard veg om hierdie euwels uit te wis deur ingrypings in plek te stel wat beleggings sal lok en werk sal skep.