
Omar al-Basjir, president van Soedan
Die Chinese ambassade in Pretoria het Vrydag aangekondig dat pres. Jacob Zuma en pres. Xi Jinping van China tydens ʼn vergadering besluit het om die 6de ministeriële konferensie van die forum oor China-Afrika-samewerking (Focac), wat op 4 en 5 Desember in Suid-Afrika plaasvind, tot ʼn beraad op te gradeer.
Dit beteken dat al-Basjir moontlik weer na Suid-Afrika genooi sal word om die Focac-beraad by te woon. Indien al-Basjir weer na die land kom, sal die Internasionale Strafhof daarop aandring dat Suid-Afrika, as lid van die Internasionale Strafhof, hom in hegtenis neem.
al-Basjir het ʼn goeie verhouding met China en is vroeër vandeesweek as ʼn “ou goeie vriend” verwelkom toe hy ʼn groot militêre parade vir die 70ste herdenking van China se oorwinning oor Japan in die Tweede Wêreldoorlog bygewoon het.
Focac is in 2000 in Beijing gestig as ʼn forum vir die Chinese regering om met alle Afrika-regerings te vergader om politieke, ekonomiese en ander vorms van samewerking te bespreek.
Anton du Plessis, ʼn regskenner verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies meen die Suid-Afrikaanse regering sal nie weer die regbank aanvat deur al-Basjir in die land toe te laat vir die Focac-beraad nie. Du Plessis het gesê hy verwag die regskwessie rondom al-Basjir se vorige besoek sal in die konstitusionele hof eindig en dat die hooggeregshof in Pretoria se besluit gehandhaaf sal word.
Al-Basjir het in Junie vanjaar vir ʼn opskudding gesorg toe hy Suid-Afrika besoek het om die Afrika-Unie se beraad by te woon. Die Pretoriase hooggeregshof het gelas hy moet in hegtenis geneem word, net voordat hulle gehoor het hy het reeds die land verlaat.
Basjir word beskuldig van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord in Soedan se westelike Darfoer-gebied. Twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming is in 2009 en 2010 uitgereik. As ʼn lid van die internasionale strafhof is Suid-Afrika verplig om Basjir aan die hof uit te lewer.
Die ANC het hierna versoek dat Suid-Afrika van die Internasionale Strafhof moet onttrek.