
President Jacob Zuma en president Omar al-Basjir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie
Dié keer kan daar geen verskoning wees dat dit die Afrika-unie, en nie die regering was nie, soos toe die regering ’n hofbevel geïgnoreer het om te keer dat Al-Basjir die land verlaat. Trouens, in die amptelike verklarings oor die ontmoeting en die voorgenome besoek word gespog oor die 16 bestaande bilaterale ooreenkomste met Soedan.
Dit sal egter nie die eerste besoek van Zuma aan Soedan wees nie. Trouens, hy was in Februarie vanjaar ook in Soedan. Maar hoekom die nuwe fokus?
Tussenin het Al-Basjir se omstrede besoek aan Suid-Afrika plaasgevind, en onder meer tot ’n uitval tussen die regering en die regbank gelei. Die lug is intussen gesuiwer, maar Zuma se besoek kan as ’n reuse-afjak vir die regbank en die skeiding van regeringsmagte beskou word. Zuma kan ook nie onkunde pleit nie – die polemiek en selfs ’n doeltreffende poging tot ’n mosie van wantroue teen hom in die parlement, moes die erns van die saak duidelik tot die president laat deurdring het.
In plaas van skadebeheer toe te pas, dryf hy die dolk in die land se reputasie as land met ’n gesonde regsbasis en verbondenheid aan internasionale reg net dieper in die hart in.
Presies dieselfde styl, die fiksiedoktrine, word as in ander sake gevolg. As Eskom weens ANC-wanbestuur begin hik, is dit apartheid en Jan van Riebeeck se skuld.
Dat die land se ekonomie in tamatiestraat is, is tot onlangs deur Zuma ontken. Die probleme wat daar wel is, is ander se skuld. Gewoonlik apartheid.
Wat Al-Basjir betref, probeer Zuma en Kie. in pas kom met die algemene blaam uitdeel van Afrika dat kolonialisme iets daarmee uit te waaie moes gehad het. Dit moet wees, want volgens Zuma het die mense van Afrika in vrede geleef en baie pret gehad voordat Jan van Riebeeck die pret kom bederf het. Hy vergeet, of hy weet nie dat Tsjaka twee agtereenvolgende hoofkrale onderskeidelik Kwa-Bulawayo (die plek van doodmaak) en Bulawayo genoem het.
Omtrent al wat kolonialisme met die stryd tussen Arabier, die etniese swart Moslems, die Darfoer, te make het, is dat die Arabiere nie oorspronklik van Afrika is nie, en eers ná die opkoms van die Islam vastrapplek in Noord-Afrika gekry het. Kortom, die gebiede is nie net tot die Islam bekeer nie, maar die inheemse bevolkings soos die Berbers, die etniese Egiptenare en talle Nihlitiese stamme van veral Soedan is verdring.
Indien Zuma sy geskiedenis geken het, behoort hy eintlik betreklik die duiwel in te gewees het oor hoe Al-Basjir en sy voorsate met etniese swart mense gewerk het, en in die geval van Darfoer, tot onlangs steeds gewerk het.
Maar presies wat is ’n kwaadwillige regering? In ’n generiese sin is dit ’n regering wat nie in die beste belang van ʼn land en sy mense regeer nie. En hieroor berig die media deurlopend tot ergernis van die regering. In ’n meer regstegniese sin is dit ’n regering wat ’n twee-derde meerderheid sou gebruik om die grondwet ten koste van die regstaat te wysig, of in die geval van menswaardigheid, gelykheid en vryheid en ’n veelparty-stelsel, ’n driekwart-meerderheid probeer inspan.
Dit spreek vanself dat ’n regering kwaadwillig is wanneer hy die meerderheidsgroepe nie kan bereik nie, en dan wesenlik gewoon die grondwet of hofuitsprake ignoreer. Die minagting van bevindings van instansies soos die Openbare Beskermer kan hierby gevoeg word.
En nou gaan dwing Zuma die wêreld se vergrootglas op hom, en sy tonguitstekery vir die regsharmonisering van die wêreld.
Ongelukkig, as die wêreld, of ’n deel van die wêreld hierop sou reageer soos om Suid-Afrika deelname aan Agoa (African Growth and Opportunity Act) te ontsê, is dit die hele land wat gaan ly. In ’n kleptokrasie sal iemand anders ook die prys betaal om te verseker dat Zuma se luukse lewenstyl nie onder druk geplaas word nie.