
Unisa-studente betoog Foto: ecr.co.za
Die polisie moes Donderdag van rubberkoeëls en pepersproei gebruik maak om betogende studente by die Universiteit van Suid-Afrika se kampus in Durban uit mekaar te dryf.
Die studente betoog teen die sluiting van eksamensentra en aansoekfooie wat studente moet betaal wanneer hulle inskryf.
Robert McKenzie, woordvoerder vir die nooddienste in KwaZulu-Natal, het gesê paramedici het een persoon op die toneel behandel wat met ʼn rubberkoeël beseer is en nog ʼn pasiënt wat met pepersproei gespuit is.
Prof. Mandla Makhanya, visekanselier van die universiteit, het met die studente gepraat en gesê hy sal met die Verteenwoordigende Studenteraad vergader, maar die betogers het dit verwerp en geëis dat die vergadering buite Unisa se perseel gehou word waar hulle teenwoordig kan wees.
“Hy het al vantevore met hulle [die VSR] vergader en hulle toe ontbind,” het een van die studente, wat anoniem wou bly, gesê. “Hy moet hier hulle eise aanspreek.”
Die betogers het uiteindelik verdaag nadat een van die studente oor ʼn luidspreker aangekondig het Makhanya sal Maandag met hulle op die kampus vergader.
Martin Ramotshela, woordvoerder vir Unisa, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.