
Van links Solly Msimanga, Bronwyn Engelbrecht en Brandon Topham. Foto: ANA
“Die ANC se ondersteuning in die stad het afgeneem en ons ondersteuning het aansienlik toegeneem oor die laaste twee of drie plaaslike verkiesings. Ons glo daar is ʼn realistiese kans dat ons kan wen en dat ons ʼn stad kan bou wat werk skep. Ons kan die bestuur van die stad omdraai,” het Fred Nel, die DA se voorsitter in Gauteng-Noord, Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê.
Die DA het Woensdag die kandidate vir die Tshwane-burgemeesterskap bekend gemaak. Die kandidate is raadslid Brandon Topham (44), Solly Msimanga (35) en Bronwyn Engelbrecht (54). Topham, die party se woordvoerder oor munisipale rekeninge, was ook in 2011 se plaaslike verkiesings die DA se burgemeesterskandidaat. Msimanga is voorsitter van die DA in Gauteng terwyl Engelbrecht ’n apteker en lid van die komitee oor munisipale rekeninge is.
Die DA het in die plaaslike verkiesings in 2011 met 39% van die steun in Tshwane weggestap terwyl die ANC 56% van die stemme op hom gevestig het.