Die aansoek is teruggetrek in ruil vir breër samespreking oor die transformasie-kwessie met die regering en lede van die publiek. Hierdie voorwaarde is in ʼn konsepbevel vervat wat deur die onderskeie partye opgetrek is en Woensdag aan die regter in die hooggeregshof in Pretoria oorhandig is.
Die hofverrigtinge is vroeër Woensdag vertraag toe Mohlomola Mokhoanatse, die leier van ANA, by die hof opgedaag het sonder regsverteenwoordiging. Regter Ntendeya Mavundla het Mokhoanatse aangeraai om regsverteenwoordiging te kry om te vermy dat hy “deur die haaie verskeur word”. Dit het die regter ʼn rukkie geneem om Mokhoanatse te oortuig en het aan hom gesê die “water waarin hy spring mag dalk kalm lyk, maar dis onstuimig onder die oppervlak”.
Regter Mavundla het hom ook oor die kwessie van transformasie uitgespreek en gesê dit is ʼn sensitiewe aangeleentheid wat behoorlik “geventileer” moet word. “Die saak is beslis van nasionale belang en dit takel die kwessie van transformasie, ʼn aspek waarteenoor hierdie spesifieke hof baie sensitief is,” het hy gesê.
ANA, voorheen bekend as South Africa First, het die aansoek teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) en die minister van sport, Fikile Mabalula, gebring om te versoek dat die Springbokspelers hul paspoorte oorhandig om hulle te verhoed om aan die wêreldbekerrugbytoernooi in Engeland te gaan deelneem later hierdie maand. Die party het die hof ook versoek om die regering te beveel om ʼn kommissie van ondersoek aan te stel na die tekort aan transformasie in Suid-Afrikaanse rugby.
Agt van die 31 spelers wat gekies is, is swart. Die Wêreldbekerrugbytoernooi skop op 18 September af.