ʼn Vrou en haar vier maande oue baba is Woensdagoggend beseer tydens ʼn beweerde kapingspoging in Rosettenville in Johannesburg.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die ma aan paramedici gesê sy is in Bouquetweg deur ʼn man gekaap.
“Sy het gesê sy is tydens die kaping in die gesig geslaan toe sy haar babatjie uit die voertuig probeer kry het,” het Meiring gesê.
Die man het glo van die toneel weggejaag, beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn muur gebots, waarna hy te voet gevlug het.
“Met die paramedici se aankoms op die toneel het hulle die ma en haar baba by die voertuig aangetref. Die ma en die babatjie het geringe beserings tydens die voorval opgedoen.”
Die ma en baba is op die toneel behandel en na die South Rand-hospitaal geneem vir waarneming.
Maroela Media het navraag oor die voorval by die polisie gedoen en wag nog vir terugvoer.