
Johanna Francina Willemse (66) van Heidelberg in Gauteng
Johanna Francina Willemse (66) van Heidelberg in Gauteng word sedert Saterdag vermis.
“Sy is die oggend om 11:00 weg met haar goudkleurige Toyota Tazz met die registrasienommer TBN 189 GP,” het kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, gesê. “Sy het nooit teruggekeer huis toe nie.”
Volgens Tshilate is Willemse die oggend weg sonder om vir enigiemand te sê waarheen sy gaan. “Sy het in April 2014 ʼn beroerte gehad en toon sedertdien tekens van ʼn persoonlikheidsverandering,” het hy bygevoeg.
Willemse is 1.6 m lank, weeg 68 kg, het kort, grys hare, is gemiddeld gebou, het ʼn ronde kop en voorkop met ʼn skerp neus en ken, blou oë en sy het ʼn bril met ʼn goue raam. Dit is nie duidelik watter klere sy aangehad het nie. Sy gebruik chroniese medikasie vir hoë bloeddruk.
“Enigiemand met meer inligting oor waar sy haarself bevind of wat haar voertuig gesien het, word versoek om konst. Emmanuel Shambana te kontak by 016 341 5175 of 083 675 8546. Of skakel haar dogter, Ina Willemse, by 082 773 4027.”