AfriForum Jeug het ʼn video op YouTube gelaai waar gesien kan word hoe studente die vermoedelike EFF-lede van die perseel probeer verwyder, terwyl hulle met sambokke aangeval word. Volgens die organisasie is die video Dinsdagoggend verfilm tydens ʼn onwettige en gewelddadige betoging by die kollege buite Stellenbosch.
Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die organisasie het na aanleiding van die video ʼn private sekuriteitsmaatskappy gekontrakteer om die veiligheid van die nie-betogende studente te verseker. Hulle is ook besig met voorbereiding om ’n dringende hofinterdik te kry om die kollegebestuur te verplig om teen die betogers op te tree.
“Baie van die betogers is nie studente aan die kollege nie en ons kan nie verstaan waarom die EFF-lede elke keer op die kampus toegelaat word nie. Die bestuur het beheer oor die kollege verloor,” het Maree gesê.
Die Vryheidsfont Plus (VF+) het hom ook ten sterkste uitgespreek teen die beeldmateriaal en gesê die bestuur van die kollege moet verduidelik waarom opruiende studente, sommige met EFF-oorpakke en sambokke, op die perseel toegelaat is.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het in ’n verklaring gesê dit is onaanvaarbaar dat daar nie genoegsame polisie en veiligheidspersoneel was om te verhinder dat die opruiende studente in gevegte betrokke geraak het met studente wat in klasse was om toets te skryf nie. “Dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF+, het gister die saak met die kollege bespreek, en die versekering is aan hom gegee dat daar wel genoegsame polisie teenwoordig sou wees om die veiligheid van dosente en studente te verseker en te verhoed dat probleme ontstaan. Daar is duidelik nie by hierdie onderneming gehou nie, nieteenstaande die feit dat daar met die optog Maandag toegelaat is dat ʼn uiters plofbare situasie geskep word,” het hy gesê.Intussen is daar op sosiale media beweer een van die mans in die video wat die studente met ʼn sweep aangerand het, is dieselfde man wat ʼn ruk gelede in die omstrede dokumentêre video Luister vertel het hoe daar by die Universiteit Stellenbosch (US) teen hom en ander gediskrimineer word op grond van hul ras. Maroela Media kon egter nie bevestig of dit wel dieselfde man is wat in albei video’s verskyn nie.
Betogings by die Elsenburg-landboukollege het oor die afgelope paar maande kort-kort opgevlam weens studente se ontevredenheid oor die instansie se taalbeleid.
Die Wes-Kaapse departement van landbou kon nie Dinsdagmiddag vir kommentaar bereik word nie.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ongeveer 50 mense aan ʼn betoging by die landboukollege deelgeneem het. “Een klag van aanranding is by die Stellenbosch-polisiestasie aanhangig gemaak,” het hy gesê. “Polisiebeamptes is steeds op die toneel om die situasie te monitor.”
Van Wyk het nie gereageer op ʼn vraag waarom die polisie nie ingegryp het toe studente met sambokke aangerand is nie.