Leon Engels (67) van Table View in Kaapstad, wat tereg staan op verskeie aanklagte van bedrog, se saak is tot September uitgestel.
Engels het Maandag vlugtig voor landdros Sabrina Sonnenberg in Bellville se gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn. Ander sake wat egter prioriteit geniet, het daartoe gelei dat die saak tot 12 September uitgestel is.
Engels staan tereg op 41 aanklagte van bedrog.
Volgens die klagstaat is hy in 2005 deur die raad van Victoria-hospitaal in Wynberg aangestel as fondsinsamelaar. Sy pligte het ingesluit dat hy fondse vir die hospitaal moes insamel, dat hy as die raad se sekretaris moet optree en, wanneer dit van hom vereis word, dat hy die raad sal bystaan in administratiewe en finansiële funksies.
As ʼn fondsinsamelaar sou hy 20% kommissie ontvang het, maar hy mag nie die fondse vir persoonlike gebruik aangewend het nie. Staatsaanklaer Jacques Smith beweer Engels het valslik kommissie geëis op fondse wat hy nie self ingesamel het nie.