Skaars vier dae nadat Dianne Broodryk, omroeper van Jacaranda FM, in haar huis in Pretoria oorval en aangehou is, is een van haar kollegas ook in dieselfde buurt in sy huis oorval.
Thabiso “Mack” Rapapali, wat weeksdae die 04:00 tot 06:00-program en Sondae die 06:00 tot 10:00-program aanbied, het Maandag aan Maroela Media gesê hy het Sondag gereed gemaak vir werk en was al omstreeks 04:00 wakker en doenig in die huis.
Hy het geluide buite die meenthuis gehoor, maar aangeneem dit is bure wat raas in die kompleks in The Reeds in Centurion, dieselfde voorstad waar Broodryk woon.
Rapapali het, net voordat hy om 05:00 na Jacaranda FM se gebou wou ry, iets gaan kry om te eet in die kombuis, toe hy hoor iemand is by die deur doenig. Hy het dadelik sy vuurwapen in sy kamer gaan haal en was op pad terug na die kombuis toe hy in twee mans in die gang vasgeloop het.
“Ek was baie geskok toe ek hulle sien. Net ek en my vrou, Cassey, was by die huis. Ek het hulle gestamp en hulle het vinnig weggehardloop sonder om enigiets te steel. Ek het agter hulle aangehardloop en ʼn waarskuwingskoot gevuur om die bure wakker te maak,” het hy verduidelik.
Volgens hom het die twee verdagtes hulself vinnig uit die voete gemaak en na ʼn lang soektog deur inwoners in die kompleks, is daar geen teken van hulle gekry nie.
Rapapali het gesê hy het nie die polisie ontbied nie, maar dadelik daarop gefokus om by die werk te kom sodat hy sy program om 06:00 kon aanbied.
Hy het gesê hy vermoed hy weet wie by die oortreding betrokke was, aangesien hulle ʼn afskrif van sy sleutels of ʼn loper gehad het. Hy is tans besig met sy eie ondersoek.
Rapapali het die meenthuis se slotte laat vervang, maar skerts dat hy vir hulle sal wag. “Ek is altyd vroeg wakker. Ek maak tee en koekies, ek wag vir hulle, hulle kan maar terugkom, ek is reg vir hulle.”
Maroela Media het Vrydag berig Broodryk was Donderdag alleen by haar huis in The Reeds, Centurion, toe sy tussen 15:00 en 15:30 deur twee mans oorval en beroof is. Lees meer hier.