
Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, tydens sy mediumtermynbegroting in Oktober 2015. Foto: Elmond Jiyane
City Press het berig ʼn woordvoerder van Allan Gray het bevestig Nene is vanoggend tydens ʼn raadsvergadering by die maatskappy aangestel. Nene was werkloos sedert pres. Jacob Zuma hom in Desember verlede jaar onverwags uit sy pos as minister van finansies afgedank het, slegs twee jaar nadat hy die stuur by die tesourie oorgeneem het.
Zuma het kort ná die afdanking gesê Nene is gekies is as die land se kandidaat vir ʼn pos by die Afrika-afdeling van die nuwe Brics-ontwikkelingsbank. Nene het egter later gesê hy dra geen kennis van die Brics-pos nie.
Nene is deur Des van Rooyen vervang, wat vier dae later ook in die pad gesteek is en deur die voormalige minister, Pravin Gordhan, vervang is. Die ommeswaai in die tesourie het die land na raming byna R500 miljard gekos en die rand het getuimel tot meer as R15 teen die Amerikaanse dollar.
Nene het ʼn paar dae ná sy afdanking ook uit die parlement bedank en vier maande “tuinmaakverlof” by sy plattelandse huis in Kranskop, KwaZulu-Natal, geneem.
Daar word beweer dat Nene afgedank is omdat hy nie geld wou voorsien vir sekere omstrede regeringsprojekte nie, aangesien die land dit volgens hom nie kan bekostig nie. Van hierdie beweerde projekte sluit in ʼn versoek deur die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) om die verhuringsooreenkoms met Airbus te hersien, ʼn nuwe presidensiële straler vir Zuma ter waarde van R4 miljard en ʼn ooreenkoms van R1 triljoen vir kernkrag.
Nene het verlede week in ʼn onderhoud met eNCA gesê dat hy by die privaat sektor sal aansluit, maar wou nie die naam van sy nuwe werkgewer bekendmaak nie. “Jy moet jou toekomstige werkgewer of toekomstige hoof toelaat om die aankondiging te maak. Ek is nog nie heeltemal seker oor hierdie indiensneming nie, maar my tuinmaakverlof sal wel binnekort tot ʼn einde kom,” het hy gesê.