Altesaam 13 departementshoofde van agt provinsies in die land gaan strafregtelik aangekla word vir wanbesteding van R11,63 miljard belastinggeld.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag sy nasionale veldtog oor wanbesteding, “Genoeg is Genoeg”, tydens ’n mediakonferensie in Centurion bekend gestel. Dit is die heel eerste veldtog van sy soort.
As deel van dié veldtog gaan AfriForum oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur van 1999 teen die 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word.

AfirForum het tydens die mediakonferensie R7 miljard se fopgeld in die lokaal vertoon om ’n kwart van die geld wat vermors is uit te beeld. Foto: Phillip Bruwer
Dié 13 departemente is deur die burgerregte-organisasie geëien as die hoofbydraers tot onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes, wat altesaam R11,63 miljard van die algehele vermorste bedrag van R28,26 miljard vir die 2014/2015-boekjaar beloop. Dié inligting is bekom uit die ouditeur-generaal (OG) se algemene gekonsolideerde jaarverslag. AfriForum het ook die jaarverslae van die onderskeie departemente bestudeer.
AfirForum het tydens die mediakonferensie R7 miljard se fopgeld in die lokaal vertoon om ’n kwart van die geld wat vermors is uit te beeld.
Die eerste klagtes is ná die mediakonferensie teen die vier Gautengse departementshoofde by die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie ingedien. Dié departemente is onderskeidelik die departement van paaie en vervoer, gesondheid, onderwys en menslike nedersettings. Van dié vier is die departement van paaie en vervoer volgens die OG-verslag die grootste sondaar: onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes vir dié departement beloop R2,19 miljard, meestal vir dié departement se hantering van die e-tolstelsel.
Daar sal soortgelyke klagtes by al die provinsies, buiten die Wes-Kaap waar die OG-verslag geen melding maak van vermorsing nie, aanhangig gemaak word. Die klagtes sal by die naaste polisiestasie aan die betrokke skuldige departement aanhangig gemaak word. Die organisasie gaan ook druk op die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) plaas deur gereeld vir opvolginligting oor die sake te vra.
Die vermeende sondaar in Mpumalanga is die departement van gesondheid. In Limpopo is dit die departemente van gesondheid en onderwys. In die Vrystaat is dit die departemente van onderwys en menslike nedersettings. In die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Noordwes en KwaZulu-Natal is die departement van gesondheid in die visier.
“Die wanbesteding van belastinggeld is ’n nasionale krisis. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die NVG plaas om ’n voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die wet nakom nie. Dié departementshoofde is van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastingbetalergeld,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, by die konferensie gesê.
As die departementshoofde skuldig bevind word, kan hulle ʼn boete of vyf jaar tronkstraf opgelê word.