
Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool
Oscar Pistorius het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Pretoria verskyn.
Regter Aubrey Ledwaba het Pistorius se vonnisverrigtinge tot 13 Junie uitgestel. Die verrigtinge sal na verwagting tot 17 Junie duur. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat albei partye bereid is om op 16 Junie, ʼn openbare vakansiedag, in die hof te verskyn indien nodig.
Die hoogste hof van appèl het verlede jaar Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag na moord omgekeer nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 in sy huis doodgeskiet het.
Die voormalige Paralimpiese atleet staar nou ʼn voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar in die gesig. Hy is tans besig om sy oorspronklike vonnis onder korrektiewe toesig uit te dien. Pistorius is aanvanklik tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is en hy het ongeveer een jaar agter tralies deurgebring.
Pistorius is na bewering oor die naweek in ʼn Pretoriase hospitaal opgeneem, maar die redes daarvoor is nie bekend gemaak nie. Hy is steeds onder huisarres in sy oom se huis in Waterkloof, Pretoria.
Pistorius se borgtogvoorwaardes is Maandag amptelik aangepas. Indien hy sy oom se huis wil verlaat en verder as ’n 20 km-radius van die huis af wil reis, moet hy toestemming van die ondersoekbeampte kry.
Pistorius se regsverteenwoordigers het Maandag aan die hof gesê dat sy elektroniese opsporingstoestel soms nie korrek funksioneer nie. Die derde toestel wat aan hom gegee is, gee hom glo ʼn waarskuwingsboodskap dat hy sy borgtogvoorwaardes verbreek terwyl hy by die huis is.
Regter Ledwaba het die beamptes van korrektiewe dienste en die ondersoekbeampte opdrag gegee om die probleem op te los voordat die hof verdaag het. Pistorius het dadelik ʼn oproep van sy selfoon gemaak en die hof verlaat.
ʼn Groep mense wat Pistorius ondersteun, het buite in die straat voor die hof saamgedrom.