Vooraf het die ANC gespog dat hy die stadion in Port Elizabeth met 100 000 ondersteuners gaan vul vir die bekendstellingsgeleentheid van sy verkiesingsmanifes. Hiervoor het die party onder meer ’n duisend busse gehuur om mense van oor die land heen aan te karwei. Baie verleë moes die ringkoppe en organiseerders teen rye en rye leë sitplekke vaskyk. Ramings oor hoeveel mense hul opwagting gemaak het, wissel tussen 46 000 tot minder as 30 000.
Laat ’n mens geen fout maak nie. Die opkoms van selfs “net 30 000” mense vir so ’n geleentheid is baie, en min, indien enige ander party, kan die ANC dit nadoen.
Teen dié agtergrond het die ANC se verkiesingsmanifes, soos breedweg deur pres. Jacob Zuma bekend gestel, bitter min aandag gekry teen die geskarrel om die leë sitplekke te verduidelik. ’n Duisend busse teen gemiddeld 50 passasiers elk, sou immers die stadion met ’n sitplekkapasiteit van 46 000 gevul het. Dan word nie eens gepraat van die plaaslike inwoners nie waar die ANC ’n besonder fel stryd voer om die Nelson Mandelabaai-metropool te behou, en duisende taxi’s gehuur het. Selfs gewese sokkerbaas Danny Jordaan is ingespan om die ANC se lang geskiedenis om mamparras in senior ampte en poste te ontplooi reg te probeer stel.
Die “hitte” het die blaam gekry toe busse glo nie opgedaag het nie. Dit klink of daar ’n heksejag gaan volg om skuldiges vir die verleentheid te vind. Boonop oorskadu die bustragedie in die Vrystaat ook die geleentheid.
Ontleders sou “mal kon gaan”, sou daar ’n behoorlike formule wees om die leë sitplekke in minder stemme vir die ANC om te reken. Dit bestaan egter nie, en bied ook nie veel meer as propagandawaarde aan opposisiepartye nie.
Wat die manifes self betref, sou die groot klem op die vasvat van korrupsie ’n riem onder die hart wees. Maar, soos ontleders uitwys: “Hoor wie praat.” Zuma het eenvoudig nie die reputasie dat woorde uit sy mond oor die vasvat van korrupsie enige waarde het nie. Die syfers wat hy noem oor wetstoepassingsuksesse, is in werklikheid ’n skreiende aanklag teen die regering gemeet die werklike omvang van korrupsie, en veral omkopery.
Maar daar is heel ander faktore wat kan bepaal hoe partye met die munisipale verkiesing op 3 Augustus gaan vaar. Kommer oor die adreskwessie op die kieserslys, maar ook kiesers wat geregistreer was en al herhaaldelik gestem het wie se name skielik van die kieslys verdwyn het, kan nog ’n groot kopsorg word. Soos Rapport gister in wydlopende beriggewing en sy redaksionele kommentaar daarop gewys het, die konstitusionele hof word in ’n baie moeilike posisie geplaas. Dié hof het reeds met die tussenverkiesingsage in Tlokwe bevind die afwesigheid van adresse maak die hou van vry en regverdige verkiesings onmoontlik. Die OVK het blykbaar sedert 2003, toe die aanbring van adresse wetlik verpligtend geword het, die kieslyste laat verslons eerder as opgeknap. Nou word die hof met ’n keuse van onmoontlikhede gelaat – die hof moet op die OVK se versoek in wese ’n verkiesing toelaat wat hy reeds bevind het nie vry en regverdig kan wees nie, of hy moet die verkiesing laat uitstel wat ook ongrondwetlik sou wees.
Die konstitusionele hof het egter voorheen al laat blyk dat dit sy ruimte om te kan improviseer goed kan benut, en dit sal dié keer stellig nie anders wees nie. Een moontlikheid is dat kiesers wat al dikwels gaan stem het, maar nie seker gemaak het hul adresse het nie voete gekry of is onvolledig nie, dieselfde soort dokumente na die stemburo saambring as wat hulle gebruik om hul selfone te Rica of hul bankrekeninge te Fika. ’n Party wat hierteen beswaar maak, erken in wese dat baie van sy lede se selfone eintlik gesteel is of op ander onwettige wyses bekom is.
Sou die hof aandring dat net kiesers wie se volledige adresbesonderhede korrek op die kieslys is, mag stem, kan altesaam meer as tien miljoen kiesers ontkieser word, en dit is volledig die OVK se skuld.
Die konstitusionele hof se vindingrykheid in die verlede waarborg egter byna vir seker dat iemand wat bespiegel oor die oplossing wat beveel word, die pot mis gaan sit.
Die OVK se droogmakery, eerder as ’n moedeloosheid met die gekweste ANC se oormag, kan tot verkiesingsapatie lei. Lae stempersentasies sal verskillende partye nie ewe hard tref nie, maar dit sal baie moeiliker wees om kiesers wat gewoonlik op die randjie van apatie op veral munisipale vlak huiwer, sover te kry om te stem as die OVK reeds die smaak daarvoor uit hul mond geneem het.
Gaan die ANC weer daarin slaag om die beleërde Zuma aan ontnugterde kiesers te verkwansel? In veral KwaZulu-Natal lyk dit of Zuma ongeag alles ’n groot aanwins is, maar elders kan sake haper, veral in Gauteng. Die suksesse van veldtogte om Zuma te dwing om te bedank kan ook nog tot die verkiesing ’n groot, maar onvoorspelbare invloed uitoefen. Nuwe onthullings kan ook die skaal na die een of ander kant verder laat kantel.
Die ANC het die bewese vermoë om laat in ’n verkiesingsveldtog groot sukses te behaal. Geen party kan wat hulpbronne betref daarmee saampraat nie.
Ongelukkig moet aanvaar word die raskwessie gaan belangrik bly – en die ANC sal ook daarvoor sorg. Selfs in die VSA blyk dit dat 57% van die kiesers die raskwessie as belangrik ag, met swart kiesers wat dit as veel belangriker ag as ander minderheidsgroepe.