Die DA het in ʼn verklaring gesê die aansoek om die optog by die Vuyisili-miniplein voor die stadsaal te hou is verlede week ingedien. Die optog sou deel vorm van die DA se optog ter ondersteuning van werkskepping in Johannesburg vroeër vanjaar. Hierdie optog sou egter ter verdediging van die Grondwet wees en “in protes teen die korrupsie van Jacob Zuma se ANC”.
ʼn Alternatiewe bymekaarkomplek is deur die DA voorgestel, maar dit is ook deur die munisipaliteit geweier. Athol Trollip, die DA se burgemeesterkandidaat vir Nelson Mandelabaai, het die munisipaliteit se verweer dat die optog ʼn veiligheidsrisiko sal inhou, verwerp.
“Danny Jordaan se ANC-geleide munisipaliteit beskerm Jacob Zuma teen openbare optrede teen sy korrupsie en misbruik van die Grondwet,” het Trollip gesê. “Die vals rede wat verskaf word, is dat die DA-optog ʼn veiligheidsrisiko sal inhou, dít gedurende ʼn week waarin die ANC-ministers op Nelson Mandelabaai toegesak het. Hierdie verskoning word verwerp met die minagting wat dit verdien,” het hy gesê.
“Om vals redes te gebruik is ʼn misbruik van staatsveiligheidprotokol en net ʼn bewys van hoe burgemeester Jordaan vir Jacob Zuma en die ANC tot elke prys sal beskerm. Die massa-optrede is duidelik ʼn ongemaklike waarheid vir die ANC en die DA sal nie hierdeur afgesit word nie.”
Die DA sal Vrydag ʼn optog deur Johannesburg na die konstitusionele hof hou, gelei deur die DA-leier Mmusi Maimane. Kristoff Adelbert, die DA-hoof van veldtogkommunikasie, het gesê die party sal Donderdagoggend ʼn nuuskonferensie buite die stadsaal in PE hou.