Dave Pepler, bekende natuurkenner en TV-aanbieder, het Dinsdag ʼn merkwaardige voorval op sy Facebook-blad gedeel van ʼn motoris wat ʼn edelvalk teen ʼn hoë spoed getref het, net om die voël drie dae later ongedeerd aan te tref.
Volgens Pepler het Martin Botes aan hom geskryf en vertel dat een van sy kollegas met ʼn vlootmotor van Kokstad in KwaZulu-Natal na Bloemfontein gereis het. “Sy het die valk teen ʼn hoë spoed getref en net vere sien trek. Sy het gedink daar het niks van die voël oorgebly nie,” het Botes gesê. “Vrydagmiddag het sy die voertuig by ons kantore afgelaai en sy het die hele naweek met haar gewete gewroeg oor die voël wat doodgery is.”
Groot was Botes se verbasing toe hy Maandagoggend inspeksie doen op die voertuig en sien hoe die valk vir hom vanuit die motor se sierrooster loer. Botes het ʼn vriendin van ʼn familielid wat by die Bloemfontein-dieretuin werk gebel om te kom help en hulle het die sierrooster oopgesny. “Sy kon met mooipraat en smeek die voël uitkry en het die valk dieretuin toe geneem. Wonder bo wonder is die valk ongedeerd,” het Botes gesê.
“Nog nooit in my lewe het ek van só ʼn wonderlike verhaal gehoor nie,” het Pepler in sy Facebook-inskrywing gesê. “Hierdie edelvalk het, soos ʼn kat, beslis meer as een lewe!”