Scott Simpson, woordvoerder van die Leeupark naby Johannesburg, het Woensdag aan Maroela Media bevestig dat die leeu wat Maandagaand in Braamfontein afgeneem is, een van die park se leeus is.
“Dit is een van ons leeus. Hy is gebruik in die verfilming van ʼn toneel vir ʼn plaaslike produksiemaatskappy,” het Simpson gesê. “Die leeu het geensins ‘in die strate rondgedwaal’ soos sommige mense beweer het nie. Die produksiemaatskappy het die gebied waar die verfilming plaasgevind het, afgesper en ons personeel en hanteerders was heeltyd daar om met die leeu te werk. Niemand was ooit in enige gevaar nie.”
Foto’s van die leeu in ʼn straat in Braamfontein is sedert Maandagaand wyd op sosiale media versprei en gebruikers het bespiegel of die leeu dalk uit ʼn reservaat ontsnap het en of die foto’s dalk net gemanipuleer is.
Simpson wou nie bekendmaak watter rolprent of advertensie Maandagaand verfilm is nie, maar het gesê leeus van die Leeupark word gereeld vir verfilmingdoeleindes gebruik. “Ons het ʼn paar leeus waarmee die hanteerders gemaklik is en wat vir verfilming gebruik word. Dit is glad nie ʼn buitengewone ding nie. Ons het ʼn hele departement wat met hierdie aspek werk.”
Volgens EWN is die spesifieke leeu wat Maandagaand gebruik is se naam Columbus en was hy ook voorheen in die bekende Amerikaanse rolprent Blended te sien.

