Die verwagtinge wat vanuit verskillende hoeke gestel word aan die nuwe Springbokafrigter, Allister Coetzee is groot. ’n Rugbypubliek wat hartstogtelik uitsien om weer ’n Springbokspan te sien waar die hoofdoel nie skynbaar is om in die naaste opponent vas te hardloop nie, maar rugbyvaardighede soos om die lyn met aftrappe en systappe te breek, en vleuels wat weer soos van ouds die ore langs die kantlyn plattrek doellyn toe, tel onder dié verwagtinge. Coetzee sal weet stampkarrugby gaan hom by die rugbypubliek in onguns bring, veral as dit nie ’n groot persentasie oorwinnings oplewer nie. En die oorwinnings wat verwag word, moet nie tot Mickey Muis-spanne beperk wees (teen wie boonop periodiek die onderspit gedelf word) nie.
Coetzee sal baie bewus wees daarvan dat hy, as WP- en Stormers-afrigter, soms kritiek gekry het oor die min drieë wat sy span druk ten spyte van baie oorwinnings. Met die hulp van die nuwe agterlynafrigter, Mzwandile Stick, is die kanse egter minimaal dat stampkarrugby deur die agterspelers ’n belangrike kenmerk sal wees.
Coetzee kon in die Wes-Kaap ook die transformasiejagters stil hou, enersyds weens die groot getal spelers waaruit hy plaaslik kon kies, maar andersyds omdat hy nie geskroom het om kleiner sterre soos Gio Aplon en Cheslin Kolbe in te span nie. Hierdie spelers het met hul dartellopies spanne wat lief is om die stewel onnodig in te span, dikwels laat skarrel met hul pasellabesit, en daardie bewegings het ook tot heelwat drieë gelei. Veral Australië en Nieu-Seeland span egter nou baie spelers van Polinesiese herkoms in – groot en sterk vaardige spelers, wat ’n groot toets vir klein spelers kan wees.
Dit kan egter aanvaar word dat Coetzee se groot toets van die rugbyveld af sal wees. Die politieke verwagtinge van die transformasiedrywers sal enorm wees. Daar gaan groot teleurstellings wees van goeie spelers wat nie gekies word nie en die vraag of iemand se velkleur teen hom getel het gaan nie oornag verdwyn nie. Coetzee sal in ’n baie, baie goeie verhouding met die rugbypubliek moet staan, terwyl hy die politici nie die harnas in jaag nie.
Die tyd sal leer of Coetzee se aanstelling die proses verhaas dat velkleur geen norm vir spankeuse sal wees nie. Dit is egter nie net in Coetzee se hande nie – daar rus die verantwoordelikheid grootliks op die politici om toe te sien dat die nodige geriewe bestaan om rugby behoorlik in gemeenskappe te laat posvat waar skole dikwels nie eens oor ’n geskraapte sokkerveld beskik nie. Die rugby-administrateurs moet ook gou besef rugbyontwikkeling bestaan nie daaruit om die gekleurde spelers van ander bonde soos die Grens, Boland en SWD op te koop nie.
As welke manipulasie wat nou mag plaasvind nie afgestem is om ’n merietestelsel te versterk nie, praat ons nie meer van sport nie maar maatskaplike manipulasie.
Coetzee het in die verlede bewys hy is nie rasbehep nie. Hy het egter ’n fyn oog om talent raak te sien, en die Bokke kan daarby baat.
Bring vir die land ’n paar mooi oorwinnings, en Coetzee sal die steun van baie hê om sy uiters moeilike taak te volvoer.