
Biskop Malusi Mpumlwana, algemene sekretaris van die SARK (Foto: Skermskoot uit ‘n video, SACC.org.za)
Suid-Afrikaanse kerkleiers het Vrydag die ANC versoek om pres. Jacob Zuma te dwing om te bedank ná die konstitusionele hof se uitspraak oor die Nkandla-saak.
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en die Nasionale Raad vir Godsdienstige Leiers (NRLC) het Vrydag dié versoek aan topbeamptes van die ANC gerig.
Biskop Malusi Mpumlwana, algemene sekretaris van die SARK, het gesê die geloofsgemeenskap kan nie meer sit en niks doen terwyl die land inplof nie, en moet Zuma vra om te dink oor die implikasies indien hy in sy amp sou aanbly.
“Ons het die ANC-leierskap versoek om Zuma te help om te bedank,” het Mpumlwana tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê. “Ons het ook ʼn persoonlike vergadering met die president versoek.”
Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa het nie die vergadering bygewoon nie, aangesien albei besig was met amptelike pligte. Die kerkleiers het versoek om volgende week met Zuma te vergader.
Die konstitusionele hof het verlede week ʼn verdoemende uitspraak gelewer waarin Zuma skuldig bevind is dat hy die Grondwet oortree het toe hy nie ag geslaan het op regstellende aksie wat die Openbare Beskermer voorgestel het, wat betref sy privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal nie.
Zuma het die volgende dag regstreeks op nasionale televisie om verskoning gevra en gesê hy het te goeder trou opgetree.
Die SARK het Dinsdag gesê hy is “nie bereid” om die verskoning te aanvaar wat Zuma oor die Nkandla-debakel aangebied het nie, en versoek dat hy uit sy pos verwyder moet word en het versoek om met die top-6 ANC-beamptes te vergader.
Die kerkleiers het Vrydag dit weer benadruk dat hulle nie oortuig is deur Zuma se verskoning nie.
“Zuma het nie vir Nkandla om verskoning gevra nie. Hy het slegs verskoning gevra vir frustrasie en verwarring. Ons kan nie sy verskoning aanvaar nie, want ons is nie deurmekaar nie,” het biskop Ziphozihle Siwa van die Metodiste-kerk, gesê. Siwa het gesê onder Zuma se leierskap is daar ʼn gebrek aan vertroue en het bygevoeg dat Zuma die morele integriteit verloor om te lei.
Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.
Siwa het gesê die kerke is nie teen die regering nie, maar daar moet kritieke betrokkenheid wees, nie net oorhoofse ondersteuning nie.
Die kerkleiers het dit benadruk dat hul fokus nie ʼn regsgeding is nie, maar ʼn morele versoek.
Die SARK, wat bestaan uit 36 inter-denominasie kerke en organisasies, het gesê dit berus by die individuele kerke of hulle by die burgerlike samelewingsoptog wou aansluit wat aktiviste vroeër vandeesweek aangekondig het. “Die burgerlike samelewing het ʼn reg om self te praat en hul eie besluite te maak. Ons versoek dat niemand betrokke sal raak in aktiwiteite wat kan lei tot lewensverlies nie, maar die land eerste plaas,” het Siwa bygevoeg.