Trevor Kershaw, die voormalige skoolhoof van een van Durban se top-skole, het Vrydag vlugtig in die Durbanse kommersiële handelsmisdaadhof verskyn op aanklag van bedrog.
Volgens Natasha Ramkisson, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Kershaw na bewering 177 bedrieglike betalings ter waarde van R5 miljoen gemaak.
Die 55-jarige Kershaw, wat onlangs by Glenwood Boys High School bedank het, is vrygelaat op borgtog van R100 000 en aangesê om sy Suid-Afrikaanse en Britse paspoorte in te dien.
Ramkisson het gesê die hof het gehoor Kershaw word beskou as ʼn vlugrisiko, aangesien hy twee paspoorte het en hy onlangs sy huis in Westville te koop aangebied het.
Buiten die indien van sy paspoorte en R100 000 borgtog, moet Kershaw ook twee keer per week by Westville-polisiestasie aanmeld. Hy mag ook nie aansoek doen vir enige nuwe reisdokumente nie en hy mag nie sonder toestemming KwaZulu-Natal verlaat nie.
Die skool het ʼn kort verklaring op sy webwerf gepubliseer: “Dit is met misnoeë dat, nadat die skoolhoof sy plan bekend gemaak het om Glenwood High School tydens 2015 te verlaat om ander belange na te streef, en nadat hy sy bedanking by die departement van onderwys ingedien het, ʼn onverwante, vinnige oudit die moontlikheid aan die lig gebring het dat die skoolhoof dalk by finansiële ongerymdhede betrokke was.”
Volgens die verklaring het Kershaw enige skuld ontken en die skool het eksterne ouditeure aangestel om ʼn forensiese oudit te doen.
Glenwood is een van die top-skole in die provinsie en is veral bekend vir sy sterk rugbyspanne.
Die saak is uitgestel tot 21 Junie.