Mugabe het honderde Zanu-PF-ondersteuners by die Harare internasionale lughawe toegespreek pas nadat hy van Japan af teruggekeer het. Volgens Mugabe het die oorlede adjunkpresident, Joshua Nkomo, op sy sterfbed aan hom [Mugabe] gesê dat Zimbabwiërs nie die grond wat in hul hande is, moet laat gaan nie.
“Moenie dink dat ons nou op die punt is waar ons die grond aan wittes gaan teruggee nie. Hulle het geld en ons het nie. Hulle het trekkers en sommige huur selfs by ons. Wees gewaarsku, die land moet ʼn nasionale hulpbron bly, ʼn opperreg,” het hy gesê.
Hy het gesê die land moet gebiedsgebondenheid en stamgebondenheid teenstaan en seker maak dat die nasionale hulpbronne eweredig verdeel is.
Mugabe het die Zanu-PF-ondersteuners gewaarsku dat hulle nie deur die nuutgevonde Zimbabwe People First-party “geflous” moet word nie, want “hulle het niks om te bied nie”.
“Die Zimbabwe People First is verlore. Moenie gehoor gee aan mediaberigte wat sê dat hulle besig is om wyd ondersteuning te werf nie, hulle het geen mense nie. Kan jy dink dat iemand ʼn party soos Zanu-PF kan verlaat om by People First aan te sluit? Vir wat?”
Grondbesit bly ʼn omstrede kwessie in Zimbabwe waar duisende wit handelsboere sedert 2000 van hul grond ontneem is. Twee weke gelede is daar ʼn vergadering gehou om die vergoedingskwessie vir die 7 miljoen hektaar grond wat by wit boere afgeneem is, te hersien.