Die Oos-Kaapse polisie het ʼn 28-jarige verdagte in hegtenis geneem nadat ʼn man Vrydagmiddag by ʼn sokkerwedstryd in Willowvale doodgesteek is.
Kapt. Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 16:00 in die Ngadla-nedersetting by ʼn plaaslike sokkerveld plaasgevind.
“Ooggetuies het gesien hoe die verdagte [na bewering] ʼn bosmes uitruk en die oorledene in die bolyf steek. Dit is nie duidelik wat die motief vir die moord is nie,” het Manatha gesê. Die polisie is ontbied en die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem.
“Die bosmes is in sy besit gevind. Hy is van moord aangekla en sal Maandag in die Willowvale-landdroshof verskyn.”
Die oorledene is as Mandisi Tshotyana (25) geïdentifiseer.