ʼn Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) is glo Saterdagoggend op die kampus verkrag en die vermeende verkragter is reeds in hegtenis geneem.
US het in ʼn verklaring gesê die universiteit is vanoggend van die voorval in kennis gestel en die student het ʼn klag by die polisie ingedien, waarna ʼn verdagte in hegtenis geneem is.
“Die voorval het glo in ʼn motor in die parkeerterrein tussen die Heemstede- en Metanoia-koshuis plaasgevind,” het die universiteit gesê.
Studente het inligting verskaf wat gelei het tot die inhegtenisneming van ʼn manlike verdagte deur die polisie en veiligheidbeamptes van die universiteit. “Die man is in aanhouding. Dit lyk asof hy nie ʼn US-student is nie.”
Die vrouestudent is onmiddellik ná die voorval ondersteun deur lede van die studentegemeenskap, wat vriende, studenteleiers van die koshuis, die koshuishoof en die US se 24-uur Krisisdiens insluit. Hulle het haar onder meer gehelp om die nodige mediese sorg te kry en die saak by die polisie aan te meld.
“Die res van Heemstede se inwoners is vanoggend van die voorval in kennis gestel en berading is tot almal se beskikking gestel.”
Die SAPD se Eenheid vir Seksuele Misdrywe ondersoek die voorval en die US bied sy volle steun op elke moontlike manier. Enigiemand met meer inligting word versoek om konst. Matthews te bel by 082 469 1479.
Dié voorval volg op nóg ʼn beweerde verkragting in Februarie in die vroeë oggendure buite die Harmonie-vrouekoshuis. Niemand is nog in verband met dié voorval aangekeer nie.
Lede van die universiteitsbestuur het hul bekommernis oor die studente wat geraak is, uitgespreek en gesê verkragting is ʼn verskriklike en afskuwelike misdaad en om deel te wees van gemeenskappe waar verkragting plaasvind, is uiters ontstellend.
“Vroue en mans wat seksueel geteister, mishandel of verkrag word, moet voorvalle asb. sonder huiwering aanmeld by die Universiteit se Krisisdiens (tel 082 557 0880) of Kampussekuriteit (tel 021 808 2333 en 021 938 9507 vir die Tygerberg-kampus). Verkragting is ʼn kriminele oortreding en moet ook by die naaste polisiestasie aangemeld word.”
Personeellede en studente wat nie van hierdie kanale gebruik wil maak nie, kan voorvalle aanmeld by die Universiteit se onafhanklike Etieklyn en anoniem bly indien hulle dit verkies. Die no. is 0800 204 549 en die e-posadres sun@ethics-line.com.