Die KwaZulu-Natalse polisie het Saterdag gesê dit is nog nie bekend wat tot die hoëspoed-botsing in Westville gelei het waarin ʼn polisiebeampte gesterf het nie.
ʼn Polisiebeampte (45), vermoedelik verbonde aan die Kwamashu-polisie, is Vrydag omstreeks 16:00 op die M19-snelweg dood nadat hy teen ʼn hoë spoed in die agterkant van ʼn stilstaande padinstandhoudingsvoertuig vasgery het. Hy was alleen in ʼn amptelike polisiemotor.
Paramedici van Crisis Medical het die beampte op die toneel dood verklaar.
Lt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die Westville-polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. “Die oorsaak van die ongeluk en omstandighede daarom word nog ondersoek,” het Gwala gesê. Gwala het nie op vrae reageer of die beampte moontlik misdadigers gejaag het nie.
Die beampte se naam is nog nie bekend gemaak nie.