Sylvester, die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes se rondloperleeu, herstel goed nadat hy Donderdagmiddag ná vier dae op vrye voet opgespoor, verdoof en gevang is.
Wanda Mkutshulwa, SANParke se uitvoerende hoof van korporatiewe dienste, het gesê Sylvester het sy eerste aand in afsondering in ʼn spesiale kamp deurgebring. Hy sal vir ʼn ruk lank daar gehou word vir waarneming, terwyl oor sy toekoms besluit word.
“Hy het tydens sy tydjie buite die park een koei en drie skape vir prooi gejag,” het sy gesê.
Sylvester se vorige soektog en versekeringseise van al die prooi wat hy tydens sy 25 dae op vrye voet verorber het, het SANParke R800 000 uit die sak gejaag. Hy het in Junie verlede jaar jag gemaak op 26 skape, ʼn koei en ʼn koedoe. Danksy ʼn satelliethalsband wat daarna aangesit is, is hy hierdie keer vinniger opgespoor.
Maroela Media het vroeër berig Sylvester is Donderdagmiddag vanuit ʼn helikopter hoog in die Nuweveldberge opgespoor en uit die lug met ʼn verdowingsmiddel geskiet. Die soekgeselskap, waaronder ʼn veearts, het hom sowat 3 km te voet op ʼn draagbaar gedra, waarna hy in ʼn voertuig gelaai en terugneem is na die reservaat.
Een van vyf opsies wag op Sylvester:
* Hy kan teruggeneem word na die Karoo Nasionale Park, met die heinings wat versterk word.
* Hy kan hervestig word in ʼn ander nasionale park.
* Hy kan geskenk word aan ʼn ander staatsbeheerde bewaringsgroep.
* Hy kan geskenk word aan ʼn private bewaringsgroep.
* Hy kan van kant gemaak word indien hy ʼn gevaar vir mense inhou.
SANParke se bestuur vergader eersdaags om die besluit te neem.
Fundisile Mketeni, SANParke se uitvoerende hoof, het Donderdag gesê: “Ons wil die publiek verseker die besluit oor sy lot sal in die beste belang van die leeu en natuurbewaring wees,” het Mketeni gesê.
Nuus dat Sylvester moontlik van kant gemaak gaan word, het hewige reaksie op sosiale media ontlok.
Talle mense het met #SaveSylvester op Twitter hul misnoeë oor die besluit uitgespreek en dié hutssleutel was Woensdagoggend een van die gewildste onderwerpe.
Verskeie reservate en wildplase het aangebied om vir Sylvester ʼn nuwe heenkome te bied.