
Argieffoto
Die departement van vervoer het Vrydag aangekondig dat motorlisensies vanaf 2017 kwartaalliks hernu moet word.
ʼn Woordvoerder van die departement het gesê ʼn skerp styging in padongelukke teenoor die vorige jaar het veroorsaak dat die regering drastiese stappe moet doen om die tekort in die begroting vir die Padongelukkefonds aan te spreek.
“Aldus die jaarlikse Paaie van Suid-Afrika-verslag is ʼn geraamde koste van R117 miljoen spandeer op pad- en vervoeronkostes in die 2014/15 finansiële jaar. Dit sluit onder andere herstelkoste aan die paaie en padversperrings in.”
Volgens die departement dek die geraamde R77 miljoen wat jaarliks ingevorder word danksy motorlisensies, nie tans die kostes nie. “Ander metodes van geldinvordering moet ondersoek word wanneer die land se boeke nie klop nie. Die kwartaallikse hernuwing van lisensies verseker ʼn toename in inkomste.”
Die departement het gesê die geld gaan aangewend word vir instandhouding en verbeterings aan die land se paaie en vervoerstelsels.”
Die departement sal dit op 1 April aan die parlement voorlê.
***LET WEL: Hierdie berig was slegs deel van Maroela Media se poging om ons lesers op Aprilgekdag ‘n rat voor die oë te draai. Dit is dus glad nie waar nie. Lees meer: Aprilgek: Het ons jou gevang?