Die polisie ondersoek ʼn dubbelmoord nadat ʼn 64-jarige man en sy 56-jarige vrou Woensdagaand in die oprit na hul huis doodgeskiet is.
Lt.kol. Mzukisi Fatyela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die skietvoorval het omstreeks 19:00 in Mthatha (Umtata) plaasgevind.
“Die egpaar het omstreeks 19:00 by die huis gekom toe ʼn onbekende hoeveelheid verdagtes op hulle toegeslaan het en met swaar kaliber gewere op hulle losgebrand het. Hulle het met ʼn wegkommotor gevlug sonder om enigiets te steel,” het Fatyela gesê.
Die egpaar se liggame is met verskeie skietwonde aan die bolyf in die oprit na hul huis aangetref. Fatyela het gesê altesaam 28 patroondoppies van onderskeidelik ʼn R5- en AK-47-geweer is op die toneel gevind.
Die motief vir skietery is onbekend. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die man is ʼn taxibaas van die Uncedo Service Taxi Association.