Dit volg nadat die vakbond Donderdag met die waarnemende direkteur-generaal van die DMR, David Msiza, en die bestuur van die Lily-myn oor die oorsake van die mynramp vergader het. Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het die vakbond weens die sensitiewe aard van die inligting wat tans in sy besit is en die kritieke fase waarin die ondersoek na die oorsaak van die mynramp is, besluit om die inligting tot sy beskikking slegs aan die DMR en bestuur van die myn bekend te maak.
“Ons het besluit om die inligting eers as vertroulik te hanteer aangesien dit noodsaaklik is ten opsigte van die ondersoek. Ons wil sodoende ook verhoed dat die myn sy deure moet sluit en dat honderde werkers hul werk kwyt is,” het Du Plessis gesê.
“Die veiligheid van ons lede en die werknemers van die myn is nietemin ons eerste prioriteit. Intussen sal ons ook die bestuur van die myn met die soektog na die vasgekeerde mynwerkers bystaan sodat afsluiting vir hul familielede bewerkstellig kan word.”
Solidariteit het aanvanklik Woensdag gesê dat hy vertroulike inligting oor die oorsaak van die ineenstorting by die Lily-myn Donderdagoggend tydens ʼn mediakonferensie sou bekendmaak. Die vakbond het egter Woensdagaand die konferensie afgestel en gesê daar sal eers met die DMR en mynbestuur vergader word.
“Indien ons vandag vertroulike inligting rakende die oorsaak van die ramp bekendgemaak het, sou dit die ondersoek na die vasgekeerde werkers verder vertraag het,” het Du Plessis gesê. “Solidariteit gaan sy bystand verleen in die verhoorondersoek na die oorsaak van die insinking van die myn. Dit behels onder meer dat die vakbond die vertroulike inligting rakende die oorsaak van die ramp wat tans in sy besit is tydens die ondersoek sal bekendmaak.”
Du Plessis het gesê Solidariteit het ook die bestuur van die myn gemaan dat geen persoon wat verdere relevante inligting vir die doel van die ondersoek wil bekendmaak, geïntimideer sal word nie.
Hy het benadruk dat die spanning en konflik tussen Solidariteit en die mynbestuur voorkom kon gewees het as die mynbestuur sedert die ineenstorting van die myn die vakbond as strategiese rolspeler te midde van die krisis erken het. “Dit het die verhouding tussen Solidariteit en die mynbestuur gestrem. Die verhouding is egter tydens vanoggend se gesprekke herstel en daar is op voorskrifte rakende toekomstige kommunikasie en gesprekvoering ooreengekom,” het hy gesê.