Met môre se uitspraak in die konstitusionele hof oor die kwessie of die Openbare Beskermer se magte bindend is, sal daar ook heelwat duidelikheid kom oor of pres. Jacob Zuma homself met vele aktiwiteite so vasgedraai het dat dit noodwendig tot sy politieke einde sal lei.
Baie Suid-Afrikaners glo die uitspraak sal rigting gee of Zuma enigsins geskik is om as president te dien.
Die konstitusionele hof het egter ʼn reputasie dat dit innoverende uitsprake lewer – soms met groot vrug, andersins met heelwat duwweltjies in die pad.
Aangesien Zuma se eie advokaat in sy betooghoofde erken het die OB se bevindings is wel bindend, sal dit tog as verrassing kom as die hof anders besluit.
Trouens, ʼn belangriker vraag is of van die ander Grondwetlike Hoofstuk 9-instansies se bevindings na die uitspraak groter bindende krag gaan hê. In die dae toe PanSAT nog redelik gefunksioneer het, is talle bevindings gemaak wat bloot geïgnoreer is, soos dat die regering self die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings is.
ʼn Interessante geval is PanSAT se bevinding dat Vrystaters die opsie behoort te hê om VS naas FS op hul voertuie se nommerplate te gebruik. Die destydse LUR vir vervoer het dié bevinding op “appèl” na die Menseregtekommissie geneem, wat dit na die destydse disfunksionele Bloemfonteinse kantoor verwys het om te hanteer, maar nooit gedoen is nie.
Sou Vrystaters na hierdie hofuitspraak weer ʼn opening hê om die kwessie te heropen?
Hoewel ander grondbeginsels ter sprake is, is dit vir baie Suid-Afrikaners ʼn groot frustrasie dat die ouditeur-generaal jaar na jaar met verdoemende verslae kom, dit in verkose rade bespreek word en dan net te dikwels geïgnoreer word.
Zuma se regspan se grootste vrees is dat die hof bevind dat Zuma “uitdagend” oor die OB se Nkandla-verslag was. Volgens Zuma het hy nog nooit ʼn onwilligheid getoon om vir ʼn gedeelte van die Nkandla-“verbeterings” te betaal nie, maar die media het ruimskoots aangehaal uit voorbeelde waar dit baie moeilik is om tot die gevolgtrekking te kom dat hy inderdaad herhaaldelik geweier het om gedeeltes te betaal.
Dit sal jammer wees as die uitspraak ruimte vir verdere juridiese akrobatiese toertjies deur Zuma en/of die ANC laat. Vermoedelik sal die hofuitspraak nie ruimte vir verdere bokspronge laat nie.
Die aanduidings is egter dat Zuma geen planne het om die tuig neer te lê nie en trouens nou pogings aanwend om sy posisie te konsolideer. Hy het hom onder meer duidelik tot die groot Zoeloe-bevolking gewend om sy rug sterk te maak, onder meer deur die hou van toesprake in Zoeloe, of met groot dele in Zoeloe. Hy moker ook die rassetamboer hard om algemene swart steun teen ʼn wit gemeenskap te wen, deur onder meer te hamer op die beledigende “white supremacy.”
Een van die interessante argumente oor waaom Zuma nie nou afgedank moet word nie, is dat so-iets die ANC sal verdeel en chaos sal veroorsaak, iets wat volgens hierdie argument nog slegter vir die land sal wees as om Zuma nie die trekpas te gee nie.
Die teenargument is bloot dat die ANC die kanker te lank vertroetel het en nou baie moeilik die noodwendige gevolge kan ontduik. Heel moontlik reageer die wêreldmarkte positief daarop.