“Die verslag is voorlopig en die statistiek sal met verlede jaar s’n vergelyk word. Hierdie verslag behels syfers wat van Donderdag, 24 Maart tot Maandag, 28 Maart 2016, aangeteken is,” het Peters gesê.
“Volgens die voorlopige verslag is 156 mense tydens Paasnaweek op die paaie dood vergeleke met 287 sterftes verlede jaar. Al die provinsies het minder padsterftes aangeteken as in 2015.”
Volgens Peters was die grootste vermindering in Noordwes, waar agt padsterftes aangeteken is in vergelyking met 28 verlede jaar. Die Vrystaat het ook ʼn aansienlike vermindering van 52% getoon, met 11 padsterftes in die provinsie oor die Paasnaweek.
Sy het gesê die vermindering in die padsterftes is aangeteken ten spyte van 333 226 meer geregistreerde voertuie in die land, wat 3% meer is as verlede jaar.
Gedurende die afgelope Paasnaweek was die besigste paaie die N1 Noord deur Pretoria, Polokwane en Beitbrug, die N3 Suid in die rigting van Durban, die N4 van Pretoria tot Nelspruit en Komatipoort en die N1 van Bloemfontein tot in die Wes-Kaap.