
Die skade wat deur betogers op 24 Februarie 2016 aangerig is op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Facebook
Koos Degenaar, woordvoerder van die kampus, het aan Maroela Media gesê alles is reg vir klasse om van vandag af weer volstoom voort te gaan. “Die koshuisstudente het gister [Maandag] weer teruggetrek na die koshuise en klasse gaan vandag voort,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig die skade wat tydens die studentebetogings op die NWU se Mafikeng-kampus aangerig is, beloop ʼn astronomiese R151 miljoen. Die omvang van die skade is nie net beperk tot skade aan geboue en ander bates nie, maar miljoene moes ook bestee word aan bykomende personeel en die vervanging van navorsing wat verwoes is.
Degenaar het Dinsdag gesê alle skade op die kampus is nog nie herstel nie, maar tydelike maatreëls is in plek om te verseker alle kampusdienste is beskikbaar. Hy het gesê die personeel wie se kantore in die administrasiegebou was wat heeltemal verwoes is toe betogers dit aan die brand gesteek het, gebruik tydelik ander kantore.
Die NWU het twee weke gelede in ʼn verklaring gesê die Maart/April vakansie is met een week verkort om op te maak vir die tyd wat verlore gegaan het terwyl die kampus gesluit was. Toetse sal ook gedurende normale klastye afgelê word in plaas van tydens ʼn spesiale toetsweek en studente sal op Saterdae klasloop. “Enige verdere ontwrigting van hierdie reeds beperkte skedule, sal die gehalte [van onderrig] in gedrang bring en ons met geen ander opsie laat as om die hele eerste semester en gevolglik die hele jaar te verloor nie.”
Volgens Degenaar is die polisie steeds besig met hul ondersoek na die onrus op die kampus.