ʼn Minibustaxibestuurder is in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn Johannesburgse metropolisiebeampte met R20 probeer omkoop het.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die taxibestuurder is Maandagaand in Soweto in hegtenis geneem.
“Die beampte het die bestuurder in Elias Motswalediweg van die pad af getrek. Die bestuurder het nie sy taxipermit by hom gehad nie en het probeer om die beampte met twee R10 note om te koop toe die beampte hom wou beboet,” het Minnaar gesê.
Die man is op die toneel in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Orlando-landdroshof verskyn op aanklagte van omkopery en korrupsie.