
President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter
Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Sondag gesê pres. Jacob Zuma het die parlement en die mense van Suid-Afrika klaarblyklik mislei om aanspreeklikheid te ontduik oor opgraderings by sy huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.
“Die berig in die Sunday Times bevestig wat Suid-Afrikaners al lankal vermoed, dat Jacob Zuma persoonlik voordeel getrek het uit opgraderings wat by sy R247 miljoen-woning gedoen is,” het Maimane gesê. “Dit is teenstrydig met dit wat Zuma vroeër in die parlement gesê het, toe hy aangevoer het dat hy en sy familie nie wesenlik voordeel getrek het uit die opgraderings nie.”
Zuma het vroeër aan die parlement gesê: “My huis in Nkandla is deur die Zuma-familie betaal. Al die geboue en elke vertrek wat in daardie huis gebruik word, is deur onsself gebou as ʼn familie, en nie deur die regering nie. Ek het nog nooit die regering gevra om ʼn huis vir my te bou nie, en die regering het dit nie gedoen nie.”
Zuma het ook gesê: “Die veiligheidsmaatreëls sluit nie die huise in wat julle tel nie. Dit is nie in my woning of my huis nie.”
Maimane het gesê die inligting wat die Sunday Times vrygestel het, wat nie aan die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, beskikbaar gemaak is tydens haar ondersoek oor opgraderings by Nkandla nie, wys dat belastingbetalers se geld spandeer is op Zuma se privaat woning in Nkandla, waaronder items soos lugversorging, aluminiumvensters, geplaveide paadjies en ses deurmatjies ter waarde van R1 500 elk.
“Dit is onaanvaarbaar dat Zuma toegelaat kan word om die parlement te vertrap deur vir dié instansie te lieg en herhaaldelik aanspreeklikheid wil vryspring,” het hy bygevoeg.
“Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het ʼn plig om die integriteit van die parlement voor te hou en te beskerm. Ek het [Sondag] ʼn skrywe aan die speaker gerig dat sy Zuma skriftelik sal versoek om sy vorige mondelingse en skriftelike korrespondensie aan die huis sal verduidelik. Die speaker moet in die parlement en voor die president opstaan en eis dat sy verduideliking onmiddellik verskaf moet word,” het Maimane gesê. “Zuma het klaarblyklik die parlement en die mense van Suid-Afrika mislei.”
Die DA voer lankal aan dat Zuma ten volle bewus was van opgraderings by sy huis en dat hy volle kennis gedra het van die eskalerende koste. “Alles waaraan Zuma raak word ʼn korrupte aktiwiteit, of dit nou opgraderings by sy huis is, en of dit die aanstelling van kabinetministers is. Alles ten koste van die mense van Suid-Afrika.”
Maimane het gesê dit is inligting wat tot die lang lys van bewyse gevoeg kan word wat was op ʼn man wat nie geskik is om as ʼn president te dien nie. “Ek versoek die ANC weereens om hom te herroep. Suid-Afrika kan nie gelei word deur ʼn man wat openlik die wet en die Grondwet minag om homself te verryk nie.”
Die Sunday Times het berig nuwe besonderhede het aan die lig gekom hoe staatsgeld gebruik is om bybehore en boumateriaal aan te koop vir drie huise by Zuma se woning in Nkandla – ondanks sy ontkenning dat staatsgeld gebruik is.
ʼn Dossier wat deur Rachard Samuel, die voormalige adjunk-direkteur-generaal van die departement van openbare werke, opgestel is, bevat fakture wat wys dat die staat betaal het vir die grasdakke, meranti- en aluminiumdeure en –vensterrame, teëls, verf, pleisterwerk, lugversorging en onverklaarbare “ekstras”.
Samuel se dossier het onthul dat beamptes wat by die projek betrokke was, herhaaldelik hul politieke hoofde gewaarsku het dat Zuma ʼn gedeelte van die kostes sal moet dek.
Samuel was een van die beamptes wat as die sondebok aangewys is nadat die regering te veel spandeer het op Nkandla. Hy voer aan hy is uit sy pos gedwing op gefabriseerde aanklagte en beplan om die dossier te gebruik tydens sy regsaak vir ʼn uitbetaling.
Hy het verlede maand ʼn saak in die arbeidshof gewen, toe die hof beslis het dat arbitrasie tussen hom en die departement weer moet hervat, het die Sunday Times berig.