Minstens 30 persone is dood na ʼn selfmoordbomplanter homself Sondag tussen ʼn groep mense in ʼn openbare park in Pakistan opgeblaas het.
Haider Ashraf, woordvoerder van die polisie, het gesê vroue en kinders is ook onder die slagoffers in Lahore, Punjab.
Khawaja Salman Rafique, gesondheidsraadgewer, het gesê meer as 100 persone is in die aanval beseer.
Die dodetal kan moontlik styg, aangesien sommige van die beseerde persone in ʼn kritieke toestand is.
Die bomplanter het kinders se speelgebied geteiken toe mense in die namiddag die park begin verlaat het.
Die aanval het plaasgevind terwyl Christene in Pakistan Paasfees vier, maar dit is nog nie duidelik of lede van die minderheidsgeloof [in dié land] die teiken was nie, het Ashraf bygevoeg.
Niemand het tot dusver verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval nie.