
Neels Kruger by die wrakstuk, vermoedelik van Vlug MH370 wat hy in Mosselbaai opgetel het (Maart 2016) Foto: EWN
Nelius Kruger (35), ʼn argeoloog van Pretoria, het vandeesweek gesê hy wag om ʼn vliegtuigwrakstuk aan owerhede te oorhandig, wat vermoedelik aan die vermiste Malaysia Airlines Vlug MH370 behoort.
Kruger het Dinsdag aan dpa gesê hy het Maandagmiddag langs ʼn strandmeer op ʼn strand buite Mosselbaai gestap toe hy die stuk “vreemde materiaal” opgemerk het. “Toe ek die stuk gesien het, het ek geweet dis nie gewone oseaanrommel nie,” het hy verduidelik. “Ek het ʼn byekorfagtige struktuur in die middel opgemerk ʼn ʼn metaalstuk bo-op. Ek het dit omgedraai en die onderste lyne van die Rolls Royce-embleem gesien.”
Kruger het verduidelik hy is ʼn lugvaartentoesias en dit is ʼn embleem wat hy al talle kere op vliegtuigenjins gesien het.

Die wrakstuk wat Neels Kruger in Mosselbaai opgetel het, vermoedelik afkomstig van Vlug MH370 (Foto: AP Photo/Neels Kruger)
Hy het foto’s van die stuk geneem en dit aan die Australiese vervoerveiligheidsburo (ATSB) gestuur, wat aan die hoof staan van die onderwatersoektog na MH370 in die suidelike Indiese Oseaan.
Beamptes by die ATSB het Kruger versoek om die wrakstuk in borrelplastiek toe te draai, totdat hulle dit in Suid-Afrika in ontvangs kan neem.
Maroela Media het vroeër berig die minister van infrastruktuur en vervoer in Australië het bevestig twee vorige wrakstukke wat in Mosambiek opgetel is, onderskeidelik deur ʼn Amerikaner en ʼn tiener van KwaZulu-Natal, is “hoogs waarskynlik” wrakstukke van die vermiste vliegtuig. ʼn Deel van die vlerk is verlede jaar op Reunion-eiland opgetel.
Malaysia Airlines Vlug MH370 het op 8 Maart 2014 tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn met 239 persone aan boord.
Lees alle vorige berigte oor Vlug MH370 op Maroela Media.