Liyema Mcwetyana het in Februarie 2011 voor sy ma, Priscilla, se oë doodgeskok toe hy aan ʼn draadheining gevat het wat aan oop elektriese drade geraak het. Liyema het glo bal gespeel saam met sy maatjies toe die voorval in die Mandela-nedersetting in Uitenhage gebeur het.
Volgens hofdokumente is die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse munisipaliteit verantwoordelik vir die installering en instandhouding van alle elektriese kabels in die Uitenhage-gebied. Gemeenskapslede het glo reeds voor Liyema se dood die munisipaliteit ingelig van die oop elektriese drade nadat ʼn koei by die heining doodgeskok het.
Priscilla het gevolglik R3 miljoen se skadevergoeding by die munisipaliteit geëis vir mediese onkoste, psigiatriese behandeling, hospitaalbehandeling en verlies aan inkomste. Die twee partye het verlede jaar buite die hof geskik en die munisipaliteit het R700 000 aan Priscilla betaal vir algemene verliese gelei.
Vroeër vandeesmaand het die munisipaliteit ʼn gevolglike R2 miljoen-eis vir die koste van ʼn versorger vir Priscilla teengestaan. Woensdag het die partye weereens buite die hof geskik en die munisipaliteit het ingestem om R1,5 miljoen uit te betaal vir Priscilla se versorging.
Advokaat Pieter Mouton het Woensdag tydens die hofverrigtinge ʼn psigiatriese verslag aan die hof voorgelê wat aandui dat Priscilla se geestestoestand sedert haar kind se dood so versleg het dat sy “nie op haar eie kan funksioneer nie” en dat daar ʼn goeie kans vir selfverwaarlosing is. Sy is volgens die verslag nie in staat om haar huis alleen te verlaat nie en haar gedrag is aanduidend van erge sosiale onttrekking.
Die hof het Woensdag die uitspraak oor die regskoste van die verdediging voorbehou.